Historiese Oorsig
"PLEK VAN BITTER HEUNING"
Dit is wat die woord Goudini beteken. Goudini is afgelei van 'n ou Khoi-San woord wat die stam aan die area toegeken het, omrede die heuning in die omgewing altyd 'n bitter smaak gehad het. Bye het van die nektar van die Bloekombome in die omgewing geneem om heuning te maak en die geel blommetjie het 'n bitter smaak aan die heuning gegee. Nie juis baie gepas nie, want die naaste wat GOUDINI SPA aan die woord bitter kom, is eenvoudig dat dit 'n "bitter" baie lekker plek is om by te kuier!
Goudini se geskiedenis dateer terug tot 1719. In dié jaar het ene Francois du Toit ('n afstammeling van die Franse Huguenote) 'n lisensie bekom om sy vee by die "Laauw Watersfontein" te laat wei en sy seun Pieter het ses maande lank in die kontrei rondgeswerf agter die vee aan. Dit is juis op grond van die fontein dat die plaas waar Goudini Spa vandag is, bekend was as "Die Bad".
Nadat die du Toits die plaas in 1741 verlaat het, het dit verskeie eienaars gehad - die Therons, Jordaans, Bothas, Viljoens en van der Merwes - totdat dit in 1967 aan die destydse toerklub, bekend as Rondalia, verkoop is. Rondalia was dan ook die eerste groep wat die grond vir kommersiële doeleindes begin ontwikkel het en meeste van die oord soos dit vandag daar uitsien is deur die groep staan gemaak.
Die ATKV het eers in Desember 1993 besit van die oord geneem. In die tydperk vandat die ATKV besit oorgeneem het en tot op hede, is baie geld en tyd bestee aan die opgradering van die bestaande eenhede. Die ATKV het ook in 1998 die Boland kompleks ontwikkel ter waarde van R5 miljoen en sodoende nog 124 beddens of 18 eenhede bygevoeg vir verhuring. Tans is die ATKV besig met nog 'n ontwikkeling op Goudini Spa - die Slanghoek ontwikkeling ter waarde van R27 miljoen. Hierdie ontwikkeling sal 'n verdere 180 beddens of dan 30 eenhede vir verhuring beskikbaar stel.
Jare lank was die bronwater van Goudini 'n groot aantrekkingskrag vir persone wat lafenis gesoek het teen 'n pyntjie hier en 'n stywigheidjie daar, en dit is lang beskou as 'n oord vir bekwaaldes. Die ATKV het egter gekom om dit 'n kuierplek te maak waar almal kan deel in die borrelende pret in die Bolandse berge.
Die feite
Die water wat uit die oog borrel, is chemies van die suiwerste en natuurlikste, met 'n temperatuur van 52oC. Die chemiese samestelling is:
| Kalium |
K |
mg/L |
1 |
| Natrium |
Na |
mg/L |
5.7 |
| Kalsium |
Ca |
mg/L |
5.5 |
| Magnesium |
Mg |
mg/L |
1.5 |
| Sulfaat |
SO4 |
mg/L |
1.9 |
| Chloried |
CI |
mg/L |
9.2 |
| Alkaliniteit |
CaCO3 |
mg/L |
15 |
| Nitraat + Nitriet |
N |
mg/L |
0.2 |
| Fluoried |
F |
mg/L |
1.0 |
| Yster |
Fe |
mg/L |
0.05 |
| Geleidingsvermoë |
(25C) |
mS/m |
7.7 |
| pH (Lab) |
(25C) |
|
6.1 |
| Hardheid |
CACO3 |
|
20 |
| Katione |
|
meq/L |
0.67 |
| Anione |
|
meq/L |
0.67 |
Eienaardige storie
Met die groot Bolandse aardbewing van 1969, waarin Tulbagh se hele hoofstraat feitlik verwoes is, het Goudini Spa ook deurgeloop. Op 30 November het die warm, helder bronwater as't ware oornag afgekoel en 'n melkerige skynsel (swael) begin kry. Die oog het met die aardbewing toe geskuif en het die warm water nie meer natuurlik bo die grond uitgedruk om die swembaddens te vul nie.
Vir Goudini Spa en sy gaste het dit gelyk asof die pret ophou borrel het! Maar nie te sê nie. Daar is vir vier jaar lank water verhit en in die tyd drie boorgate geboor - twee om die swembaddens mee te voed en 'n derde, die koudste, om drinkwater te voorsien. En gou was die oord letterlik weer "op volle stoom" vir almal om te geniet!
|