ATKV-Goudini Spa Vakansieoord
GPS-koördinate: 33º40'06.98" S / 19º15'48.06" E
Ongeveer ’n uur se ry vanaf Kaapstad, op Roete 62, die grootste en uiteenlopendste wynroete ter wêreld, lok ATKV-Goudini Spa jou met sy borrelende pret in die Bolandse berge. Hier kan jy jou oorgee aan die lekkerte van hierdie oord in die Breëriviervallei – ’n ware paradys vir diegene wat versot is op die buitelewe. Die streek spog met talle roetes vir 4x4-voertuie, avontuurlike trekkerritte, staproetes en kanoritte op die Breërivier, wat al hoe gewilder word!
ATKV-Goudini Spa word toenemend beskou as een van die Wes-Kaap se gesogste vakansie-, konferensie- en toeristebestemmings. Die wye verskeidenheid geriewe by dié moderne oord toon duidelik waarom die oord besig is om homself as die markleier in die provinsie te vestig.
Huisvesting wissel van rondawels en woonstelle tot woonwa- en kampeerfasiliteite. Daar is ook ’n restaurant met ’n kitskos-afdeling en ’n goed toegeruste winkel. Ontspan verder met minigholf, vlugbal, snoeker en in die groot verskeidenheid swembaddens.
’n Paar kilometer vanaf ATKV-Goudini Spa is die Bolandse dorp Worcester met talle interessante besienswaardighede. Daar is byvoorbeeld die Kleinplasie-opelugmuseum, die KWV-brandewynkelder en die Karoo Nasionale Botaniese Tuin. Die oord is ook tussen vele bekende wynkelders geleë: Badsberg, Slanghoek, Du Toitskloof, Goudini asook Opstal-landgoed!
Die jongste toevoeging tot ATKV-Goudini Spa is die luukse Slanghoek Villas met ’n vierstergradering en ’n asemrowende uitsig oor die Slanghoekvallei. Slanghoek Villas bied 30 luukse wooneenhede, elk met slaapplek vir ses persone. Elke slaapkamer het sy eie veranda en daar is lugverkoeling in die hoofslaapkamer en leefarea, ’n kaggel in die sitkamer en onderdakbraaigeriewe op die stoep.
Die Villas het ’n eie swembad en konferensiefasiliteite. Dié eksklusiewe huisvesting sorg vir ’n onvergeetlike besoek en is deur die AA as een van die beste tien verblyfplekke in Suid-Afrika aangewys.
TOEKENNINGS
- AA-toekenning vir die wenner van 2009: Luukse selfsorgoord met 'n wye verskeidenheid huisvesting.
- AA-toekenning vir die wenner van 2010: Luukse selfsorgoord met 'n wye verskeidenheid huisvesting.
- Die Ekstra myl-toekenning: Arie Fourie van ATKV-Goudini Spa se konferensieafdeling ontvang hierdie toekenning van die South African Association for the Conference Industry.
- Sertifikaat vir uitstekende diens: ATKV-Goudini Spa ontvang hierdie sertifikaat vir die uitstekende diens wat hulle aan die hoofkwartier vir gesamentlike operasies van die Suid-Afrikaans Weermag gelewer het.
- Sertifikaat as gewaardeerde vriend: Arie Fourie van ATKV-Goudini Spa ontvang hierdie sertifikaat as gewaardeerde vriend van die hoofkwartier vir gesamentlike operasies van die Suid-Afrikaans Weermag.
- Finalis: ATKV-Goudini Spa se konferensiefasiliteite word in 2003 aangewys as finalis vir 'n Western Cape Tourism-toekenning.
- Toekenning van die Suid-Afrikaanse Weermag: ATKV-Goudini Spa se konferensiefasiliteite is deur die Suid-Afrikaanse Weermag bekroon met 'n goue muntstuk wat op 'n houtbalkie gemonteer is. Die Weermag het nog net tien muntstukke oorhandig en ATKV-Goudini Spa is die eerste wie se konferensiefasilteite vereer is.


Terme en voorwaardes [kliek hier]
|